'n Rukkie terug het ek 'n half-voltooide gedig geplaas, en hier is die volledige gedig nou:
Vergete Verlede
deur Janet Botes, 2011
Vergete in die verlede
waar selfs gister nog geen betekenis dra
en drome en vrese saamsmelt
tussendeur langsaam voortstroom
Weggesteek in die middernagdonker
waar klein diertjies skarrel en jaag
en ons voetjie vir voetjie moet voel waar ons gaan
terwyl die maan eindeloos voort wentel
Geslote in 'n houtkissie van herinnering
waar spinnerakke en stof 'n lagie mis vorm
en selfs die waarheid minder duidelik deurskyn
tussendeur alledaagse werksbestaan
Ja, daar agter in die hoekie van jou gedagtes
in die skrefies tussen onsin en menig verhaal
waar verskonings en skaamkry saam met lekkerkry lê
en gister saam met môre saamsmelt in gevoelensgety
Daar is die waarheid en die weg wat elk moet volg;
die dinge wat ons teëstry en wegsteek-vermy
omdat ons so bang is vir buurman se opinie of lag
en eerder langsaam, verlangs weer terug op die paadjie wil kom
waar ons eindelik gelukkig, vreedsaam en tereg kan loop
met die Vader, die bron, met lewe en liefde.
No comments:
Post a Comment